
Koel Kaap groet Nuwe Jaar
Koel Kaap groet Nuwe Jaar

Bykans 5 000 mense het na die Botaniese Tuin Kirstenbosch gestroom en die buitelug-teater volgepak om die laaste ure van 2011 te groet en 2012 te verwelkom. Die Moederstad het met feitlik volmaakte weer saamgespeel vir die Nuwejaarskonsert wat Amarula aangebied het, met Prime Circle as die hoofattraksie, en Elvis Blue as steun.
Konsertgangers is by hul aankoms deur ’n massiewe ys-olifant begroet. Dié is Koel Ama-Ellie genoem. Amarula het opdrag aan Matt Smyth van Ice Art gegee om die beeldhouwerk te skep. Hy het twee dae lank met ’n skets as voorbeeld 16 ysblokke van 150 kg elk gebruik om die dier te maak. Nadat al die oortollige ys verwyder is, het die olifant 1,5 ton geweeg. Dit moes eers in drie dele uitmekaar gehaal word voordat dit by die koelkamer uitgedra kon word. Agt man het dit weer op die terrein aanmekaar gesit.
Die beeldhouwerk was op sy hoogste punt 2,6 m hoog. Volgens James Cussen, ʼn Ice Art-direkteur, was dit om 05:00 op Nuwejaarsoggend - 12 uur ná die oprigting daarvan - steeds heel en blink.
Amarula het’n sterk verbintenis met olifante. Die drankie word gemaak van die vrugte van die maroelaboom wat inheems aan Suider-Afrika is. Olifante is mal oor ryp maroelas. Hulle help om die saad te versprei en sorg dus só vir die voortbestaan van die bome wat net in die natuur groei.
Amarula steun navorsing na olifantgedrag ook sterk – die bevindings word in wildtuine in private en staatsbesit in Suider-Afrika vir die bewaring van olifante aangewend. In die afgelope dekade befonds die handelsmerk die Amarula-olifantnavorsingsprojek onder die bestuur van prof. Rob Slotow van die Universiteit van KwaZulu-Natal. Dit geniet wêreldwyd erkenning as gesaghebbend ten opsigte van die gedrag van Afrika-olifante, en lok internasionale en plaaslike akademiese navorsers van die hoogste kaliber.













